Recent Posts

Recent Updates RSS Toggle Comment Threads | Keyboard Shortcuts

  • Daniel18962 9:57 pm on August 23, 2010 Permalink | Reply  

    Afsterwe van Ds. Martin Blignaut en Calvinia staaltjies 

    Ek was vandag in Somerset-Wes by die begrafnis van Ds. Martin Blignaut – argivaris van die NGK Argief in die 1980’s. Dit was in die tyd toe ek as argivaris daar gewerk het. Oom Martin is op 16 Augustus in die ouderdom van 86 jaar oorlede. Hy was o.a. predikant in Knysna, Albertinia, Babanago en Calvinia. Later ook weermagkapelaan.

    Oom Martin – wat ‘n stil man was – het altyd ‘n storie of grap te vertel gehad. Hy het o.a. vertel van die tannie in die Calvinia-distrik wat met ‘n wewenaar getrou het wat bekend was daarvoor dat hy sy vorige vrou geslaan het. Toe hy die dag van die troue oor die drumpel stap toe wag sy hom met ‘n koekroller agter die deur in. Sy gee hom ‘n hou oor die kop en sê iets in dier voege: “Laat dit nou vir jou ‘n les wees om nie jou hand aan my te slaan nie.”

    Hy het ook van die tannie in dieselfde distrik vertel wat baie netjies was. As hy aan die deur klop kom sy met ‘n stoflap in die een hand en ‘n verestoffer in die ander om die deur oop te maak. Nadat sy die deur vir hom oopgemaak het, het sy eers die deurknop met die stoflap afgevee. Soos wat hy dan voor haar uitstap na die sitkamer stof sy die vloer agter hom met die verestoffer.

  • Daniel18962 9:55 pm on August 23, 2010 Permalink | Reply  

    Afsterwe van Ds. Martin Blignaut en Calvinia staaltjies 

    Ek was vandag in Somerset-Wes by die begrafnis van Ds. Martin Blignaut – argivaris van die NGK Argief in die 1980’s. Dit was in die tyd toe ek as argivaris daar gewerk het. Oom Martin is op 16 Augustus in die ouderdom van 86 jaar oorlede. Hy was o.a. predikant in Knysna, Albertinia, Babanago en Calvinia. Later ook weermagkapelaan.

    Oom Martin – wat ‘n stil man was – het altyd ‘n storie of grap te vertel gehad. Hy het o.a. vertel van die tannie in die Calvinia-distrik wat met ‘n wewenaar getrou het wat bekend was daarvoor dat hy sy vorige vrou geslaan het. Toe hy die dag van die troue oor die drumpel stap toe wag sy hom met ‘n koekroller agter die deur in. Sy gee hom ‘n hou oor die kop en sê iets in dier voege: “Laat dit nou vir jou ‘n les wees om nie jou hand aan my te slaan nie.”

    Hy het ook van die tannie in dieselfde distrik vertel wat baie netjies was. As hy aan die deur klop kom sy met ‘n stoflap in die een hand en ‘n verestoffer in die ander om die deur oop te maak. Nadat sy die deur vir hom oopgemaak het, het sy eers die deurknop met die stoflap afgevee. Soos wat hy dan voor haar uitstap na die sitkamer stof sy die vloer agter hom met die verestoffer.

  • Daniel18962 6:00 pm on August 21, 2010 Permalink | Reply  

    ” Hy vererg hom toe en slaan die perd met een vuishou plat” 

    Die volgende is ‘n storie uit my boek oor die Vosloo-familie (vir meer inligting oor die boek sien http://www.facebook.com/album.php?aid=78593&id=723756666&l=28d399184f)

    “Die Engelsman het ná ’n paar dae bygekom, maar Ol het vas geglo dat hy hom doodgeslaan het. Terwyl hy weg was, het hy ook vals gerugte gehoor dat die man inderdaad dood was. Ná ’n jaar of twee kom daar eendag ’n Rhodesiër op Lydenburg aan en verneem of die polisie nog vir Ol soek oor die man wat doodgeslaan is,” vertel Laurens Gerhardus (1948) van Hartenbos van sy oupa se broer, Jurie Wessel (Ol) (1882).

    Hy het die inligting gekry by Oom Giel Hoffman van Lydenburg. Laurens vertel verder: “Ná die Tweede Anglo-Boereoorlog het dit gebeur dat ’n Engelse bokser deur die land sou toer en dan al die sterk manne van ’n dorp uitdaag om teen hom te boks. Daar is gewoonlik ook bedrae geld verwed op die gevegte. Die geveg het sonder bokshandskoene plaasgevind en het eers geëindig wanneer een van die boksers òf uitgeslaan is òf oorgegee het. So ’n bokser het eendag op Lydenburg opgedaag en die sterk manne van die omgewing in die agterplaas van die Royal Hotel aangevat. Ná ’n aantal gevegte was hy nog onoorwonne en toe het van die ouer manne van die omgewing vir Ol, wat in sy twintigerjare was, oorreed om met die besoekende bokser deur die toue te klim.

    “Ná ’n bloedige geveg wat ure geduur het, met beide boksers se ribbes al blou geslaan, het Ol die ander man met ’n vreeslike regter planke toe gestuur. Hulle het probeer om die man by te kry, maar tevergeefs. Die mense wat die geveg georganiseer het, het bekommerd geraak en die hotel se eienaar laat kom. Dié het nie kans gesien dat die man op sy perseel sterf nie en het die landdros laat kom. Ol, onder die indruk dat hy die man doodgeslaan het, vertek toe maar stil-stil na die plaas Krugerspost waar sy ouers gewoon het. Hy het vir sy ma gesê hy wil gaan jag en sy het toe vir hom biltong en beskuit ingepak. Hy het sy kos, geweer en patrone gevat en is toe daar weg. Hy het egter nie weer teruggekom nie.’’

    Ná ’n paar jaar daag ‘n Rhodesiër op Lydenburg op om te hoor of die polisie nog vir Ol soek oor die man wat doodgeslaan is.

    “Dit moes iemand gewees het wat hy in Rhodesië geken het en wat op besoek aan die Unie was. Hy moes toe namens Ol uitvis oor die toedrag van sake. Ol het nadat hy op sy ‘jagtog’ vertrek het o.m. transport gery in Rhodesië en later in die Balla-Balla-omgewing geboer en ook twee goudmyntjies bedryf. Die een myn se naam was die Balla-Balla Peak Myn en die ander die Mickey Mouse Myn. Hy het geboer op die plase Pioneer’s Rest en The Comedy.

    “Nadat hy gehoor het dat die Engelsman nie dood is nie, en die polisie hom nie soek nie, het hy weer kom kuier in Suid-Afrika. Hy was ’n groot fris man van by die ses voet ses tot ag (1,98—2,03 m) en met ’n wit snor wat gelyk het soos ’n Afrikanerbees se horings. Sy kleinseun, Ollie Davel, is ongeveer ses jaar gelede in ’n motorongeluk dood. Ollie se familie boer vandag nog op die plase. Ol se enigste ander kleinseun, Michael Davel, woon in Buluwayo.’’

    Ek het ook die volgende geskryf oor Sterk Vosloos:

    “Gerrit (1768), wat ook bekend gestaan het as Sterk Gert, is op 21 April 1860 op die ouderdom van 92 jaar 2 maande en 28 dae op die familieplaas, Oukraal, in die distrik Somerset-Oos oorlede. Volgens een van sy nasate, Jan Ernst (1938), wat vandag nog sy perdepramkierie het, moes hy, as ’n mens na die lengte van die kierie kyk, langer as 6’6’’ (kort duskant die 2m) gewees het.

    Geen wonder dat van sy nasate onder name soos “Big Hans’’ (Johannes Lodewyk — 1878) en “Sterk Jan Vosloo’’ (Jan Hendrik — 1859) bekend gestaan het nie. John William (1953), oor sy oupa, Big Hans: “Daar word vertel dat hy op ’n dag besig was om ’n perd te beslaan en die perd wou nie stilstaan nie. Hy vererg hom toe en slaan die perd met een vuishou plat.’’ ’n Voormalige Springbok-rugbykaptein en voorry, Hannes Marais, tel ook onder sy nasate.

    Dit laat ‘n mens ook onwillekeurig dink aan Annette von Droste-Hülshoff, ‘n Duitse digteres, se beskrywing van die mense van Sauerland, die deel van Duitsland waarvandaan stamvader Jan Vosloo afkomstig was: “The people of the Sauerland are really tall and wellbuilt, maybe the tallest breed of people in Germany …”

    Ol Vosloo was ‘n nasaat van Johannes Arnoldus Vosloo wat in 1766 gebore is. Johannes Arnoldus was ‘n broer van bogenoemde Gerrit Vosloo wat in 1768 gebore is. Gerrit Vosloo het bekendgestaan as Gert Houtkannon vir sy aandeel in die boere se bou van ‘n houtkannon tydens die Van Jaarsveld opstand in Graaff-Reinet in 1799. Dit is egter ‘n storie (‘n WARE storie) vir ‘n ander dag. As julle nuuskurig is kan julle dit oorweeg om intussen die Vosloo-boek aan te skaf!

    Toe ek gister deur die boek The South African Sporting Encyclopaedia and Who’s Who (Donaldson’s Publications-publikasiedatum onbekend)blaai kom ek toevallig af op aangehegte advertensie waarin genoem word dat ONP Vosloo in 1943 die Suid-Afrikaanse swaargewig amateur stoeikampioen was.

    Die enigste Vosloo in my boek met die voorletters ONP is Oelofse Nicolaas Petrus wat op 26 Junie 1925 in Nylstroom gebore is. Sy Pa, Michael Diederick is gebore op 19 November 1896 en was ‘n jonger broer van Ol Vosloo. As hierdie ONP Vosloo wel Oelofse Nicolaas Petrus Vosloo is, sal dit beteken dat hy reeds op die ouderdom van ongeveer 18 jaar Suid-Afrikaanse swaargewig amateur stoeikampioen was! Alles dui egter daarop dat dit wel een en dieselfde man is.

    Die tweede skandering is ‘n foto van Ol en Michael Diederick se Oupa en Ouma. Die Oupa is Johannes Jacobus Vosloo (geb. 1826) wat in die laat 1870’s vanaf die Queenstown-distrik na Lydenburg verhuis het.

  • Daniel18962 10:41 pm on August 6, 2010 Permalink | Reply  

    Tant Alie van Transvaal 2 

    Ek het by ‘n vorige geleentheid uittreksels geplaas uit die boek Tant Alie van Transvaal. Die aanhalings sal handel oor Tant Alie se ervaringe tydens die Tweede Anglo Boere-Oorlog. Alie Badenhorst is gebore op 14.12.1867 as Alida Margaretha Jacoba de Wet. Haar pa was ‘n onderwyser in die Lichtenburg-distrik. Sy en haar man het op Manana in die Lichtenburg-distrik gewoon. Genl. Koos de la Rey het ook op Manana gewoon. Die eerste aflewering kan by http://ancestry24.com/danieljacobs/2010/07/10/tant-alie-van-transvaal-deel-1/ gesien word.

    Hiermee nog ‘n aantal uittreksels – meer volg later.

    bl. 84 Oor die Slag van Modderrivier op 28 November 1899 skryf haar man in ‘n brief die volgende: “Die getal dooies en gewondes weet ek nie; maar treurig is dit van oom Jacobus de la Rey se seun. Die generaal se seun is gewond deur ‘n stuk bom in die sy en is die volgende oggend oorlede. Dit is Adriaan, die oudste. Ook die oudste seun van veldkornet Hans Coetzee is swaar gewond, en is hier op die hospitaal in Jacobsdal. Van die distrikte Jacobsdal en Boshoff is baie gesneuwel. Daar is vrouens van wie die mans gesneuwel is; sommige het twee seuns verloor, ander weer die vader en die
    seun. Dit is treurig om hulle te sien. Daar is baie Engelse. As hulle
    aankom, trek hulle ‘n uur te perd breed.”

    bl. 93 Die oggend van 14 Desember 1899 – “Ek sit en luister na die klop van my hart, en daar skiet dit my te binne dat dit my verjaarsdag was – ‘n nuwe skrik. Veertien jaar lank het ek altyd my geboortedag begroet aan die sy van my eggenoot, en as ek dan ontwaak, was my eerste woorde altyd: “Loof die Here, my siel, en alles wat binne in my is, Sy Heilige Naam.” Maar op hierdie môre wou dit nie uit nie. My hart was te beswaard. Na die liggaam was ek lydende, en ek dag om spoedig weer na die dokter te moet gaan. In my hart was ‘n pyn wat niemand kan verhelp nie as Hy alleen wat my Hulp op
    aarde was.”

    bl. 94 In ‘n brief – Hooflaer, Modderrivier, 14 Desember 1899 – skryf haar man: “Sê aan Piet sy pa moet nou ook menige nag ‘n klip onder die kop sit soos ou vader Jakob gemaak het, want as ‘n mens op brandwag uitgaan, moet jy die hele nag uitbly; en dan neem jy net ‘n kombers saam.”

    Bl. 104 – Uittreksel uit ‘n brief van haar man, gedateer Moderrivier,
    29.12.1899 – verwysende na Engelse soldate se begrafnis: “Ds. Strasheim was daar op die dag toe die Engelse begrawe is; die Engelse predikant het die lykrede gehou; dit was baie aandoenlik. Dominee het homself gesien en met hom gepraat; hy was baie verdrietig. Hulle is mislei gewees, het hy gesê;hulle dag dat hulle met ‘n barbaarse volk sou veg, en nou moes hy sien dat dit ‘n volk is met dieselfde geloof as hulle, en dieselfde Bybel; en nie swart mense soos dit hom vertel is nie. Daar was ook ‘n bejaarde man wat baie gehuil het oor die bloed wat daar gestort is, soos hy gesê het, vir die eer van Chamberlain en die kapitaliste.”

    Webtuiste: http://www.gendata.co.za

  • Daniel18962 2:43 pm on July 29, 2010 Permalink | Reply  

    My voormoeder Krotoa – susterskind van Harry die Strandloper 

    Dalene Matthee se Pieternella van die Kaap was ‘n dogter van Krotoa (dalk beter bekend onder haar Hollandse naam Eva),die Khoi-meisie wat in Jan van Riebeeck se huis gewoon het en as tolk tussen die koloniste en die Khoi opgtree het. Sy was getroud met die Deen Pieter Van Meerhoff, destyds chirurgyn en ontdekkingsreisiger aan die Kaap. Sy sterf op 29 Julie 1674 op Robbeneiland. Dus vandag 336 jaar gelede. Haar ma was ‘n suster van Harry die Strandloper. Krotoa is een van my voormoeders. Baie ander Afrikaners – o.a. ook Genl. Jan Smuts – tel onder haar nasate.

    My verbintenis met Krotoa is as volg:

    Daniel Zaaiman van Vlissingen. Hy het ‘n kontrak gehad met die Kommandeur van Mauritius om daar patats te plant en gaan later na die Kaap. Aankoms 26.1.1709 en sterf 1714. Hy was getroud met Petronella van Meerhof (Pieternella van die Kaap).

    Pieter Zaayman gebore op Mauritius en getroud op 10.1.1712 met Anna Koopman waarskynlik die dogter van Bartholomeus Koopman

    Bartholomeus Zaayman gedoop omstreeks 1717, burger Stellenbosch, getroud op 20.10.1741 met Anna van Biljon

    Rachel Francina Zaayman, gedoop 29.1.1758, getroud 3.7.1774 met Frans
    Siebrits van Oostkeller. Haar tweede huwelik was met Jacobus Hugo en haar derde huwelik met Willem Brevis.

    Bernhardus Lambertus Siebrits gedoop op 28.12.1798 en getroud op
    6.11.1813in die Paarl met Helena Debora du Toit. Hy sterf op
    3.11.1856. Helena is gedoop op 20.7.1794.

    Francois Krige Siebrits gedoop op 4.8.1816 in die Paarl en trou in die Paarlop 26.11.1844 met Hester Petronella Meyer wat op 20.9.1820 in die Paarl gedoop is. (Van hulle het ek ‘n foto)

    Stephanus Gabriel Siebrits gebore op 19.4.1860 en oorlede in Franschhoek op 2.6.1944 en is getroud te Franschhoek op 12.12.1893 met Margaretha Judith du Toit wat op 14.10.1873 gebore is en op 16.9.1958 in Franschhoek sterf.

    Hester Petronella Siebrits gebore op 20.8.1905 en sterf op 29.3.1977 en was getroud met Daniel Johannes Malan Jacobs wat gebore is op 17.11.1897 en sterf op 7.11.1945

    Hierdie Hester Petronella is my ouma aan vaderskant.

  • Daniel18962 9:00 pm on July 14, 2010 Permalink | Reply  

    Die Slag van Dellville Bos – 14 Julie 1916 

    Toe ek in die laat 1980’s en vroeë 1990’s in die Staatsargief in Kaapstad as argivaris gewerk het, het ek op ‘n stadium gehelp met die dataprosessering van boedels wat geregistreer is in die tyd toe die Eerste Wêreld Oorlog plaasgevind het. Dit is deel van die boedelverwysings wat by http://www.national.archives.gov.za/naairs.htm beskikbaar is. Ek kan onthou dat ek talle boedels van gesneuwelde soldate gedataprossesseer het. Ek is feitlik seker dat van die boedels ook van Dellville Bos se gesneuweldes was. Dit is ‘n veldslag waarvan ek reeds as kind kennis geneem het.

    Vandag 94 jaar gelede het die Slag van Dellville Bos begin. Dit was deel van die groot Slag van die Somme wat op 1 Julie 1916 begin het. Met die Slag van die Somme het die Geallieerdes die Duitsers aangeval wat Frankryk reeds sedert Augustus 1914 beset het. Met die die einde van die Slag van die Somme op 18 November 1916 het die Geallieerdes 1.5 miljoen ongevalle gehad en die Duitsers slegs 9.7 km teruggedryf. Sommige historici is egter van mening dat die slag ‘n belangrike rol gespeel het in die uiteindelike oorwinning oor die Duitsers.

    Op die eerste dag van die Slag van die Somme was die Britse leër se verliese 60 000 man. Dit is die grootste verliese wat die leër nog op een dag gelei het.

    Die Suid-Afrikaanse Eerste Infanterie Brigade het die grootste deel van die spit afgebyt in die Slag van Dellville Bos en geweldige verliese gelei. Net 20% van die Brigade het ongeskonde uit die stryd getree. Hulle het egter hulle opdrag uitgevoer en die bos vir die Geallieerdes behou. Van die 3155 lede van die Brigade het teen 3 September 1916 nog net 619 oorgebly. Die res was of gedood, gewond, gevangegeneem, vermis en van die manne het ook later aan hulle wonde beswyk.

    Bronne: http://en.wikipedia.org/wiki/Battle_of_Delville_Wood en http://en.wikipedia.org/wiki/Battle_of_the_Somme

  • Daniel18962 9:59 pm on July 10, 2010 Permalink | Reply  

    Tant Alie van Transvaal Deel 1 

    Ek het ‘n paar jaar gelede die boek Tant Alie van Transvaal gelees. Dit is ‘n aangrypende boek en ek gee hierna ‘n aantal aanhalings uit die boek deur. Ek sal in die toekoms nog byvoeg.

    Die aanhalings sal handel oor Tant Alie se oorlogservarings maar ook haar wedervaringe in die Klerksdorp Konsentrasiekamp. Sy was gelukkig dat sy in ‘n huis in die dorp kon bly – omdat sy by haar aankoms in die Konsentrasiekamp reeds baie sieklik was. As dit nie daarvoor was nie, wonder
    ‘n mens of sy en haar (of al haar) vyf seuns die kamp sou oorleef het (sy sterf egter in 1908 op die ouderdom van 40/41- hoogswaarskynlik so jonk o.a. weens die ontberinge van die oorlogsjare).

    Alie Badenhorst  is gebore op 14.12.1867 as Alida Margaretha Jacoba de Wet. Haar pa was ‘n onderwyser in die Lichtenburg-distrik. Sy en haar man het op Manana in die Lichtenburg-distrik gewoon. Genl. Koos de la Rey het ook op Manana gewoon.

    Sy vertel van die Uitlanderkwessie en sê dan: “Die stemregtyd is tot vyf jaar gebring, maar daarvan wou hulle ook nie hoor nie. Toe het ons burgers begin praat en kwaad word; ons Regering gee teveel toe, het hulle gesê; waarom soveel gepraat…”

    “Toe die Volksraad weer begin, het ons Staatspresident, Paul Kruger, gesê dat ons volk verbitter is teen die Engelse, maar dat ons nie teen Engeland ‘n oorlog kan voer nie, tensy God ons genadig sou wees…”

    Die oorlog breek toe uit, maar haar man is nie aanvanklik opgeroep nie. Hy is toe uiteindelik ook gekommandeer en sou oor twee dae na Mafikeng vertrek. Sy vertel van haar man en werksmense wat op die dag – twee dae voor sy vertrek – hawer sny en gerwe bind. Dan verder: “Almal is bedrywig, alles sien daar so groen en lief uit dat ‘n mens nie kan dink daar is ‘n oorlog in die land nie. Die ou voorman van die volk, ‘n ou Boesman wat nog vir Frikkie se vader gedien het sê: ‘Baas moet ons nog al die gerwe opbind en dra?’; Hy vee die sweet van sy voorkop. ‘As daar tog nou ‘n bietjie koffie was om die maag sterk te maak,” vervolg hy. Hier kyk hy op en sien my aankom met die koffie.  ‘Nooi’ sê hy, ‘die baas laat ons vandag te hard werk. Wat wil die baas nou maak?’  ‘Ja’ sê sy baas, ‘as ek weg is, Fiesant, dan het jy en die nooi minder werk, want as die hawer tog eers gepak is, is daar nie soveel werk aan die koring nie.’

    Sy vertel hoe sy voorbereidings getref het vir sy vertrek na die oorlogsfront: “O, die dae, toe ek al sy klere moes opsy sit en met tere sorg inpak. Wie het gesien hoeveel trane daarop geval het? As my liewe Frikkie binnekom, is ek altyd ewe opgeruim, want ek wou hom in hierdie laaste dae
    geen bitterheid aandoen nie; hy moes sien ek is gereed om my kruis te dra.”

    Bl. 75 – “Wel, ek moet sê dat ek ook altyd baie opgesien het teen ‘n oorlog met Engeland, want ek wis dat dit ‘n magtige volk was. Tog wou ek my land nie afstaan nie; ek was ‘n liefhebber van ons vryheid.”

    Bl. 79  “My kleinste was twee jaar oud. Hy het tog so bitter gehuil. “My pa het van my weggeloop”, sê hy. Ja, ons kinders moes nou vanaf hulle jongste dae die bitterheid van oorlog smaak, en sien dat ons altyd trane stort, en dat ons ‘n land van weemoed en oorlog is”

    Comments

  • Daniel18962 7:35 pm on July 1, 2010 Permalink | Reply  

    Oor Oom Awie Kempen en die vaslê van lewensverhale 

    Ek was vandag by die dankdiens vir Oom Awie Kempen wat op 29 Junie in die ouderdom van 90 jaar in Bellville oorlede is. Oom Awie was o.a. Sekretaris van Kleurlingsake (in vandag se taal Direkteur Genraal) en na sy afrede ook burgemeester van Bellville.

    Hy is een van die mees merkwaardige mense wat ek al leer ken het. Ek heg hierna ‘n deel van ‘n boodskap aan wat ek aan iemand gestuur het wat ook vir Oom Awie goed geken het en vir my laat weet het van sy afsterwe.

    Ek stuur die uittreksel uit die booskap om vir almal van ons te motiveer om ons eie lewensverhale op skrif of op band vas te lê en ook te help met die vaslê van ander mense se lewensverhale. Veral van diegene wat ryk en/of interessante lewens gehad het en oor baie wysheid beskik.

    Ek luister gister op RSG na ‘n onderhoud met ‘n bekroonde joernalis (ek kan ongelukkig nie haar naam onthou nie) en sy noem toe dat navorsing bewys het dat Afrikaners baie graag inspirerende stories in tydskrifte lees (uit die konteks van die gesprek het ek afgelei dat dit in Suid-Afrika veral Afrikaners is, wat graag sulke stories lees). Deur die stories en wyshede van wyse mense vas te lê kan ons dan ook help om in hierdie behoefte te vervul!

    Net terloops – die joernalis het ook genoem dat dit bewys is, dat sekere tydskrifte beter verkoop as daar ‘n dame met blonde hare op die voorblad is terwyl ander tydskrifte weer beter verkoop met dames met donker hare op. Sekere tydskrifte sal ook nooit die foto plaas van ‘n vrou wat se tande sigbaar is as sy glimlag nie! Dit laat my nou ook dink aan iemand wat op ‘n keer aan my genoem het dat hy betrokke was by marknavorsing waarin bewys is dat die Jode in Seepunt ‘n spesifieke Maak/”Brand” agurkies verkies terwyl die Jode in een van die Suidelike voorstede (dalk Nuweland of Rondebosch – ek kan niem meer onthou nei) weer ‘n ander maak verkies

    Groete

    Daniel Jacobs
    http://www.gendata.co.za

    BOODSKAP OOR OOM AWIE

    “Dit was die laaste paar maande so op my hart om by hom uit te kom, maar ek het toe nie. Die laaste paar keer wat ek hom gebel het om ‘n afspraak te maak het hy nie soos gewoonlik die foon beantwoord nie. Ek het toe besef ek sal, maar die tehuis moet bel en hoor wat ek moet doen om hom te kan sien.

    Hy is een van die mees merkwaardige mense wat ek persoonlik geken het. Ek het heelwat gesprekke met hom opgeneem. Daarvoor is ek dankbaar, want hy het mos ‘n ongelooflike geheue gehad. Ek is net jammer dat ek nie meer gesprekke met hom gehad het nie.

    Hierna aangeheg ‘n paar stukke wat ek geskryf het waarin ek verwys na van Oom Awie se wyshede en stories.

    Ons moet moeite doen om ons eie lewensverhale op skrif – of band – te kry en moeite doen om mense soos Oom Awie – wat intelligent was, wysheid gehad het en ‘n vol en ryk lewe gelei het se verhale op skrif of op band te kry.

    Ek het in die 1980’s vyf ure se gesprekke met my Oupa den Heijer wat ‘n Noordsee-visserman was, die TWO beleef het en in 1951 na Suid-Afrika geëmigreer het se lewensverhaal op band geneem. Dit het net vyf ure van my tyd in beslag geneem. My Ma se oudste broer – tans oudtse manlik lid van die de Heijer “clan” wat nou al oor die 100 lede tel (my Ouma van 92 wat in Hartenbos in ‘n ouetehuis woon het bv. 30 kleinkinders gehad waarvan 29 nog leef) het ‘n tyd terug vir my dankie gesê dat ek die gesprekke opgeneem het en gesê dat dit een van sy kosbaarste besittings is.”

    TOE AFRIKANERS ARM WAS

    Van die Kotzes gepraat dink ek aan wat Oom Awie Kempen van Bellville vir my vertel het. Hier in Vredelust, Bellville was ‘n baie bekende NGK predikant – Dr. Gideon Kotze. Hy het 3 doktorsgrade gehad. Oom Awie vertel vir my dat Dr. Kotze se broer aan hom vertel het dat hulle so arm grootgeword geword het dat hy – die broer – die ploeg op die plaas moes trek omdat daar nie ‘n trekdier was om dit te doen nie. Ek het Dr. Kotze – wat nou al oorlede is – twee of drie keer in my lewe gesien. Hy was ‘n baie groot sterk man – so ek kan dink dat sy broer dalk ‘n ploeg sou kon trek. Mens wil egter hartseer raak as mens dink aan sulke armoede.

    OPMERKING OOR GENL. HERTZOG

    Ek help vandag vir my matriekseun met ‘n mondeling oor die Afrikaner se geskiedenis en noem toe aan hom dat Oom Awie Kempen – hy was jare gelede Sekretaris van Kleurlingsake (hy leef nog en is byna 90 jaar oud)- aan my genoem het dat alhoewel Genl Hertzog uit ‘n vermoeënde familie gekom het hyself sonder ‘n baie groot boedel gesterf het. Hy was dus in die politiek om te dien en ter wille van die geld, status ens nie.

    “TATA JY MOENIE MET JOU BLAKER OOR DIE KOLE SIT NIE, JY SAL AMEGTIG WORD”

    Ek gesels vanaand met Oom Awie Kempen. Hy is 89 jaar oud en was vroeër jare
    o.a. Adjunk-Sekretaris (vandag sou dit Adjunk-Direketeur Generaal gewees
    het) van Binnelandse Sake. Hy noem toe aan my dat daar so baie belangrike
    insidente is wat hy beleef het waarvan hy al vergeet het. Gelukkig het ek in
    die verlede heelwat gesprekke met hom op band opgeneem.

    Ten spyte daarvan dat hy al baie dinge vergeet het, het hy egter vanaand vir
    my nog interessante stories vertel wat ek nog nie voorheen gehoor het
    nie. Ek het toe maar net weer daaraan gedink hoe belangrik dit is dat ons
    die oorlewering van mense wat veelbewoë tye beleef het op band moet opneem.
    Veral as hulle goeie geheues het. Nie net ter wille van die “groot
    geskiedenis” waaraan hulle deelgeneem het en wat hulle beleef het nie, maar
    ook ter wille van die “klein geskiedenis” Ek noem toe aan hom dat ek
    binnekort weer terug gaan wees met my bandopnemer.

    Hiermee twee verhaaltjies wat hy vanaand aan my vertel het. Hy sê hy was
    hier rondom 1950 die persoonlike klerk van Mnr. Coen Steytler, die
    Sekretaris van Lande. Wanneer ‘n mens Kaapstad met die N1 binnery kry mens
    Coen Steytlerlaan op die linkerkant ongeveer daar waar mens regs draai by
    die Waterfront.

    Hy sê dat iemand vir wie hy baie respek gehad het was Senator Dawie Jackson
    van Ermelo. Hy het hom as Oom Dawie aangespreek en Senator Jackson vir hom
    as Jongeling. Hy het met Senator Jackson kontak gehad wanneer hy kom besoek
    aflê het by Mnr. Steytler. Iemand het eendag aan hom genoem dat ‘n man van
    Ermelo eendag ‘n baie groot verlies gelei het – iets soos sy winkel wat
    afgebrand het. Hy sien toe hoe Senator Jackson vir die man ‘n £5 noot gee en
    hy hoor hom sê: “Ek jammer jou £5.” Hy sê dus nie net jammer nie, maar help
    hom ook in sy materiële nood.

    Toe ek opstaan om te loop wys hy vir my ‘n voetstofie. Hy vra toe of hy al
    die stofie se storie vir my vertel het. Toe ek nee sê vertel hy die
    volgende. Sy Ouma Bettie Barnard geb. Keyser wat in ongeveer die 1940’s op
    91/92-jarige ouderdom oorlede is het altyd met haar voete op die stofie
    gesit. Ek vermoed dit was in die Loxton-distrik, want Oom Awie het as kind
    saam met my gesin vanaf Loxton Kaap-toe verhuis.

    Oom Awie het een keer as klein seuntjie tussen haar voete bo-op die stofie
    kom sit. Sy sê toe aan hom: “Tata jy moenie met jou blaker oor die kole sit
    nie, jy sal amegtig word.” Hy het later die woord in ‘n Ou Hollandse Bybel
    raakgelees in verband met Jona se kommkommerplant wat deur ‘n wurm opgeeët
    is. In my Oupagrootjie se Hollandse Bybel staan by Jona 4 vers 8: “En het
    geschiedde, als de zon oprees, dat God eenen stillen oostewind beschikte; en
    de zon stak op die hoofd van Jona, dat hy aamechtig werd; en hij wenschte
    zijner ziel te mogen sterven, en zeide: Het is mij beter te sterven dan te
    leven.”

    In die 1983 Vertaling by hoofstuk 4 vers 8 staan: “Toe die son opkom, het
    God ‘n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona
    op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te
    sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” Die
    hitte van die son het dus tot gevolg gehad dat Jona amegtig geword het – of
    dan “baie swak.”

    Interessant dat Oom Awie as jong kind nie die woord geken het nie terwyl dit
    in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Deel 1 op bl. 176 voorkom. Daar
    word die betekenis as volg aangegee: “Hygend na asem; benoud, aamborstig: Hy
    is so amegtig van die hardloop dat hy elke keer hyg en keel skoonmaak. Die
    kind hoes innerlik en amegtig – ‘n teken van kinkhoes.

    ‘n Storie wat hy by ‘n vorige geleentheid m.b.t. Mnr. Coen Steytler vertel
    het is die volgende: In die depressietyd het die staat klein lenings aan arm
    mense gegee waarmee hulle dan een of ander projekkie kon begin om ‘n
    inkomste te probeer verdien. Daar was egter baie spesifieke voorwaardes
    waaraan die aansoekers moes voldoen om te verseker dat die staat nie ‘n te
    groot risiko loop met die gee van die lening nie. Daar moes naamlik ‘n
    redelike kans wees dat die projek ‘n sukses sou wees. Op ‘n dag het ‘n man
    en ‘n vrou wat aansoek gedoen het vir ‘n lening voor ‘n komitee verskyn om
    hulle leningaansoek te motiveer. Mnr. Steytler was ook deel van die komitee.

    Die lening kon ongelukkig nie toegestaan word nie, omdat die egpaar nie aan
    die minimum vereistes voldoen het nie. Die vrou het ‘n baba by haar gehad.
    Toe Mnr. Steytler na die onderhoud die man en vrou na die deur vergesel val
    die tjalie af wat die vrou oor die baba gehad het. Hy buk om dit op te tel
    en toe hy dit oor die baba gooi skop die kleintjie met sy “warm voetjie” in
    Mnr. Steytler se hand. Die kontak met die baba se warm voetjie was te veel
    vir Mnr. Steytler. Die man en vrou is by die deur uit en Mnr. Steytler is
    dadelik terug na die ander Komitee-lede en oorreed hulle om die lening toe
    te staan. Hulle het toe uiteindelik ook ‘n sukses van hulle projek gemaak.

    (Nota – Die volgende is ‘n aanhaling uit ‘n boodskap wat ek ontvang het na aanleiding van hierdie stuk wat ek ook aan die poslyste gestuur het:

    “Ek het die staaltjie gelees oor Coen Steytler en die babatjie met die pienk voet. Dit is my oupagrootjie aan ma se kant (ma se pa se pa). Ek wil net opreg dankie sê dat jy so die geskiedenis beskerm. Ek sit vandag in …. en ek voel skoon hartseer met `n oorweldigende gevoel van heimwee en verlange. Dit het nou regtig baie vir my beteken om
    hierdie brokkie te kon lees …Geniet jou dag en weereens baie dankie. Ek het dadelik die staaltjie vir my hele familie gestuur.”)

    OM RESPEK TE Hê VIR PAPIER

    Oom Awie Kempen, op ‘n stadium Direkteur-Generaal van Kleurlingsake en na sy aftrede Burgemeester van Bellville, was lank saam met ons in die Boston NGK. Hy is 90 jaar oud en woon saam met Tannie Bramie in ‘n aftree-oord hier in Bellville. Ek het die laaste paar jaar heelwat by hulle gekom. Oom Awie was 16 jaar oud toe hy in ca 1936 by die Staatsdiens begin werk het. Op ‘n dag het hy aan my genoem dat een van die eerste dinge wat hy as amptenaar geleer het was dat ‘n mens respek moet hê vir papier – vir dokumente dus.

    Jare gelede het Ds. Charles Hopkins – op ‘n stadium argivaris van die NGK Argief in Kaapstad – vertel dat hy op ‘n keer na die ou kerkregisters van ‘n plattelandse gemeente gesoek hy. Hy kom toe in ‘n buitekamer waar daar ‘n bed met drie pote was, met ‘n trommel wat as vierde poot gedien het en toe kry hy die ou registers binne-in die trommel.

    Die storie het ek al in die laat 1980’s gehoor. Dit was tot dusver altyd die storie wat ek in my genealogiese kursus vertel het om die punt tuis te bring dat alle mense ongelukkig nie respek vir papier het nie. Die afgelope week het ek egter ‘n storie gehoor wat die een by verre oortref.

    Die persoon vertel dat ‘n amptenaar in een van die noordelike provinsies op inspeksie was by ‘n staatskantoor. Die “inspekteur” kom toe by ‘n vertrek met dokumente waarvan hy nie die deur kon oopkry nie. Hy sien toe egter dat daar ‘n gat in die muur van die vertrek is. ‘n Amptenaar van die betrokke kantoor noem toe aan die “inspekteur” dat hulle altyd ou dokumente in die kantoor gestoor het, maar op ‘n stadium nie meer die deur kon oopkry nie. Toe maak hulle maar die gat in die muur en gooi die dokumente wat gestoor moet word deur die gat. Die “inspekteur” kry toe ‘n leer, klim op tot by die gat en kruip daardeur na binne. Met die inkruipslag sien hy ‘n slang voor hom en nodeloos om te sê dat hy baie vinnig teruggekruip het!

  • Daniel18962 9:18 pm on June 18, 2010 Permalink | Reply  

    HEIN WICHT SE INTERESSANTE BURE OP DIE KAAPSE VLAKTE 

    Ek koop graag outobiografiese boeke van minder bekende mense. O.a. omdat dit dikwels inligting oor nog minder bekende baie interessante mense bevat!

    Ek lees vanaand in Hein Wicht se boek Road Below Me wat in 1958 uitgegee is deur Howard Timmins. Voordat Wicht die wêreld vol geseil en gereis het, het hy vir ‘n jaar of wat op 10 akker grond op die Kaapse Vlakte met groente probeer boer. Hy sê: “I always wanted to go to the sea, but my mother (sy het in Seepunt gewoon) made it clear that this was out of the question. If I couldn’t be a doctor, in the family tradition – and this was manifestly impossible owing to my “resistance to education”, then I would have to be a farmer. In those days many people still believed that it was the ideal occupation for the fool in the family.”

    Oor die ligging van sy plasie sê hy: “To get to my holding, I used to take a train to a station called Ottery. From there it was necessary for me to walk about six miles along lonely, sandy tarcks, overshadowed by the Australian scrub.”

    Ek skat dit moes kort voor of kort na die 1920’s gewees het. Hy het op daardie stadium in groot isolasie gewoon, maar met die skryf van die boek het die huis wat hy daar gebou het deel gevorm van ‘n woonbuurt.

    Hy sê o.a. oor van sy bure: “These were my strange associates of the Cape Flats. Marthinus, the respectable coloured man, bearded and Arab-like; the now nameless drunken philosopher of the motor-case; Murphy, the hunchbacked printer; and one or two other colourful characters like old Pretorius.” Oor elkeeN van eersgenoemde drie persone vertel hy heelwat.

    Oor sy Pretorius-buurman sê hy: “Pretorius was a retired railway ganger, and he lived among the dunes, with a very fat wife, and eleven daughters ranging in age from fourteen to forty. The old man, who must have been quite eighty, looked like a popular illustration of Jehovah.

    For some reason I cannot now recall, I once spent a night in the Pretorius homestead. I remember the occasion, however, very well. Before turning in, we all sat on bentwood chairs round the walls of the voorhuis, while the old, white-bearded Pretorius read a chapter from the Bible. After we had sung a hymn, the youngest daughter went out and returned with a bucket of water. Kneeling down before the patriarch, she proceeded to wash his feet. We were all barefooted—in that sandy country with so much water lying about, most people went without shoes—yet the little girl made no attempt to minister to her mother and her sisters. From her father she came across to me. Much to my embarrassment, she thoroughly scrubbed my feet, paying particular attention to the spaces between the toes.

    I remember being a little worried about the sleeping accommodation. The house was a wattle-and-daub structure with three rooms in a row, and a lean-to kitchen behind. The partitions went up to rafter level, but there was no ceiling—and thus very little privacy. The middle room was the voorhuis or living-room, on either side were bedrooms. Where was I going to sleep? I suspected I would have to bed down on the dung floor of the voorhuis. Presumably, Ma and Pa slept in one bedroom, the eleven girls in the other. To my surprise, I was ushered into the room on the left where there was a massive double bed with a feather mattress, and at least four lesser couches. I found that I was going to share the room with several of the daughters—and the double bed with father !”

    Ek het skanderings van die eerste nege bladsy by http://www.facebook.com/album.php?aid=223379&id=723756666&l=f476065073

  • Daniel18962 3:14 pm on June 15, 2010 Permalink | Reply  

    BY DIE GRAF VAN MY OUPAGROOTJIE SE OUPAGROOTJIE 

    Andries Stockenström: “… A thousand times have such men as Van Wyk, van der Walt, Pretorius, Oberholzer, Joubert and others (whom before some of you, it is hardly safe to call human) spoken to me with the utmost warmth and sympathy of the dangers and injustice of taking the property of the boarder tribes..”

    Op 15 Junie 1845 – vandag 165 jaar gelede – sterf Michiel Adriaan Oberholster op waarskynlik die plaas Schietmekaar in die Fauresmith-distrik. Michiel Adriaan was my oupagrootjie Daniel Johannes Malan Jacobs wat in 1869 op die plaas Platfontein in die Fauresmith-distrik gebore is se oupagrootjie. Hy was die leier van ‘n groot klomp Trekboere wat reeds voor die Groot Trek semi-permanent in die Suid-Vrystaat gewoon het. Op sy plaas Schietmekaar kan sy nasate vandag nog uitwys waar die sogenaamde raadsaal gestaan het waar ek aanvaar hy en van die ander trekboer-leiers van tyd tot tyd vergader het. Michiel se skoonseun – my voorouer Willem Daniel Jacobs (geb. 1804) – op wie se Griekwa-huurplaas Fauresmith aangelê is – was ook een van hierdie Trekboer-leiers.

    Die volgende inligting word gegee in ‘n dokument wat ek by Tannie Annatjie van Deventer – nasaat van Michiel Oberholster – gekry het:”… WD Jacobs, die eienaar van Sannaspoort, het later op eie koste predikante in die Kaap Kolonie laat haal om hier te kom preek. Hy het dus baie gedoen vir die welsyn van hierdie gemeente.” Later meer oor die Trekboere en die onderskeid tussen hulle en die Voortrekkers.

    Ek en my seun Malan het Fauresmith van 15-16 Julie 2009 besoek en was ook by die graf van o.a. Michiel Adriaan op Schietmekaar. Ek aanvaar dat dit een van die oudste geïdentifiseerde grafte van ‘n blanke wat in die Suid-Vrystaat gesterf het moet wees. Die graf van Michiel en ander lede van sy familie is in die 1940’s deur van sy nasate uitgewys aan van die jonger generasies wat toe grafstene van sement gemaak het en by die grafte aangebring het.

    My seun Malan by die graf van Michiel Oberholster.

    Ek by die graf van Michiel Oberholster.

    As jong kind reeds – miskien 7-8 jaar oud – het ek die eerste keer gehoor dat my oupagrootjie Daniel Johannes Malan Jacobs (agterkleinkind van Michiel) in die Fauresmith-distrik gebore is. Die inligting verskyn dan ook voor in my Oupagrootjie se Bybel.

    My Oupagrootjie het my Oupa Jacobs met seker so 7 jaar oorleef. My Pa was 14 jaar oud toe sy Pa in 1945 oorlede is en ek kan onthou dat ek op ‘n stadium onder die indruk gekom het dat my Pa nogal geheg aan sy Oupa was.

    Van al my Pa se voorgeslagte is daar in ons huis die meeste gesels oor die Malans. Seker, maar deels omdat ons familie-name Daniel Malan is – my seun Malan is nou al die vyfde geslag Daniel Malan Jacobs. Waarskynlik ook omdat ons o.a ‘n ou skryftafeltjie van my Oupagrootjie se ma – Anna Aletta Malan (geb. 1840’s) – gehad het. Ek kan onthou dat ek as kind ervaar het dat daar ‘n sagte plekkie vir haar was in die hart van my Ma – wat baie in geskiedenis belangstel – omdat Anna Aletta jonk gesterf het. Ek skat my Oupagrootjie was nie ouer as 3-4 jaar toe sy gesterf het nie. Hy het ook nog twee susters gehad wat jonger as hy was.

    Dan was daar ook Anna Aletta se Pa Daniel Johannes Malan (geb. ca 1824) wat as Ryk Daantjie Malan bekend gestaan het. In Stals se twee volumes Die Afrikaner in die Goudstad word daar genoem dat hy ‘n direkteur was van die Langlaagte Gold Mining and Prospecting Syndicate. Of hulle egter een ons goud gemyn het betwyfel ek – die navorsing om my vermoede in die verband te probeer bevestig moet nog gedoen word. Hy het weliswaar ook arm gesterf – dit is egter ‘n storie vir ‘n ander dag.

    Daniel Johannes Malan is in ca 1824 in Wellington gebore. Sy Pa Jan Jacobus Malan (geb. ca 1798) word volgens een bron saam met ‘n Dr Abbey aangegee as die stigters van Wellington. Die eerste huis in Wellington is deur hom gebou. Jan Jacobus Malan se Pa was Daniel Johannes Malan (geb. ca 1775). Ons kan die oorsprong van ons familiename na hom terugvoer. Hy was ‘n neef van die Voortrekker-leier Piet Retief.

    Al wat ons verder van my Oupagrootjie se verbintenis met Fauresmith geweet het, was dat hy op 14-jarige ouderdom sy perd gevat het en weggeloop het na sy Oupa Daniel Johannes Malan wat op daardie stadium in Zeerust in die Wes-Transvaal gewoon het. Hy kon naamlik nie met sy stiefma oor die weg kom nie. Vandag weet ek dat hulle op daardie stadium – ca 1883 – nie noodwendig meer in die Fauresmith-distrik gewoon het nie. Ek het bv. sedertdien vasgestel dat sy Pa se derde huwelik in 1873 in Kimberley plaasgevind het. Soos seker ook baie ander Afrikaners het hy waarskynlik sy heil op die diamantvelde gaan soek.

    Net vir die interessantheid. Die Erasmus Jacobs wat die eerste diamant in die Hopetown-distrik opgetel het, is deel van dieselfde “clan”. Sy Pa – Daniel Johannes Jacobus Jacobs – was ‘n kleinneef van hierdie oorgrootjie van my – Willem Daniel Jacobs (geb 1839) wat in 1873 in Kimberley in die huwelik getree het.

    Anna Aletta Malan was Willem Daniel Jacobs (geb. ca 1839) se tweede vrou. Sy eerste huwelik was met ‘n Van Zyl-niggie van hom. Sy sterf op 22-jarige ouderdom en die huwelik met Anna Aletta Malan was in 1868.

    In die 1860’s speel Daniel Johannes Malan bankrot in Wellington en ek vermoed dit is die rede waarom hy sy verdere heil in die noorde van die land gaan soek het.

    Hierdie was my eerste besoek aan Fauresmith en distrik. Ek was in 1982 tydens my Nasionale Diensplig op ‘n offisier kursus by op Kimberley. Tydens ons “Vasbyt” het ons in vyf dae 180 km oor die vlaktes van die Noord-Kaap en Suidwes-Vrystaat gestap. Ons een draaipunt moes naby aan Jacobsdal gewees het. Op daardie stadium het ek nog nie geweet dat Jacobsdal aangelê is deur Christoffel Johannes Jacobs en sy seun nie. Christoffel Johannes was die oudste broer van my Oupagrootjie se Oupa Willem Daniel Jacobs (geb. 1804). Hy was die 9de oudste kind van David Jacobs (geb. ca 1749) en Jacoba Adriana Smit. Dit is op Willem Daniel Jacobs (geb. 1804) se Griekwa-huurplaas dat Fauresmith aangelê is.

    Die Jacobse was van die trekboere wat hulle reeds voor die Groot Trek semi-permanent langs die Rietrivier bevind het. Prof. Britz noem in ‘n boekie wat hy oor die geskiedenis van Fauresmith se NGK geskryf het, dat die eerste trekboere hulle reeds in 1815 vir die eerste keer in die Rietrivier omgewing bevind het. Hulle belangrikste leier was my voorouer Michiel Adriaan Oberholster – wat vandag 165 jaar gelede gesterf het. Hy was vir baie jare die veldkornet van die Winterveld Veldkornetskap van die landdrosdistrik van Graaff-Reinet. Volgens Deel V van die SA Biografiese Woordeboek is hy in 1829 “algemeen as die leier van die trekboere erken”.

    Die gebied waar hulle hulle gevestig het, was onder beheer van die Griekwas en reeds in 1828 het Oberholster namens die trekboere ‘n ooreenkoms met Adam Kok II aangegaan om grond van die Griekwas te mag huur (SA Biografiese Woordeboek, Deel V bl. 581).

    Michiel Adriaan Oberholster se oudste dogter was getroud met my voorouer Willem Daniel Jacobs (geb. 1804) op wie se Griekwa-huurplaas Fauresmith aangelê is. Soos reeds genoem is hy my oupagrootjie – die eerste Daniel Johannes Malan Jacobs – wat in 1869 in die Fauresmith-distrik gebore is se oupagrootjie.

    Hierdie trekboere het hoofsaaklik agter weiveld aangetrek en het nooit beplan om onder die gesag van die Koloniale regering uit te kom soos wat die geval met die Voortrekkers was nie. Hulle het dan ook as Lojaliste bekendgestaan omdat hulle lojaal gebly het aan die Engelse regering. Dit het dan ook tot struwelinge met van die Voortrekkers onder leiding van o.a. J.G. Mocke gelei wat hulle ook mettertyd in die Vrystaat gevestig het.

    Daar is nie tyd om in diepte in te gaan op die “reg of verkeerd” van Oberholster se standpunt nie. Prof. PJ van der Merwe – my baie goeie vriend Joos se Pa – noem in sy boek die Noordwaartse Beweging van die Boere voor die Groot Trek (1770-1842) dat die trekboere oor ekonomiese redes getrek het.

    Daar waar hulle in die Kaapkolonie gebly het – die Richmond-distrik – het hulle o.a. nie in voortdurende konflik met die Xhosas geleef nie en was dus nie vir die Engelse so kwaad soos die trekkers wat hoofsaaklik uit die Oostelike distrikte getrek het nie. Die feit dat baie min Voortrekkers uit o.a. die westelike dele van die Kaapkolonie gekom het, is ‘n verdere bevestiging van hierdie punt. Ook hulle het minder rede gehad om kwaad te wees vir die Engelse en daarom feitlik glad nie aan die Groot Trek deelgeneem nie.

    Eric Rosenthal verwys in sy boek South African Surnames op bl. 109 as volg na Michiel Oberholster: “Even to-day, far over a century later, the personality of Michiel remains the subject of controversy among historians. Many of his contemporaries violently disliked his policy of conciliation…”

    Ek het eendag aan ‘n vrou wat saam met my gewerk het genoem dat ek van Michiel Oberholster afstam. Haar reaksie was iets in dier voege: “Ek stam ook af van hom. Hy was mos ‘n perdedief en het wapens gesmokkel met die Basoeto’s!” Tydens my besoek aan Fauresmith het ek met ‘n ou dame gesels wat ook ‘n afstammeling is van hom en ook sy het aan my genoem dat Oberholster en sy mense deur sommige mense as verraaiers beskou is. Ek vermoed dat die beskouing van Oberholster as wapensmokkelaar en perdedief moontlik sy oorsprong gehad het tydens die hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme (waarteen ek nie in beginsel enigiets het nie – ek is immers ‘n lid van die Voortrekker Jeugbeweging!), toe dit nie sou mode gewees he tom te sê dat jy ‘n nasaat van die lojalis MA Oberholster was nie.

    Sy goeie verhouding met die Koloniale regering was waarskynlik een van die belangrikste redes waarom hy na die moord op Retief deel was van ‘n 13-man Kommissie wat deur die Engelse regering Natal-toe gestuur is om te gaan ondersoek instel na die omstandighede van die Voortrekkers. Die latere President Boshoff van die Vrystaat was nog ‘n lid van die Kommissie. Erasmus Smit verwys in die verband na o.a. Oberholster se teenwoordigheid in die Trekkerlaer waarvan hyself ook deel was.

    Reg of verkeerd – Michiel Oberholster was nie ‘n bakleierige soort mens nie. Toe ek dit aan Louis Roux – by wie se gastehuis ek en Malan in Fauresmith oorgebly het – noem, het hy dadelik aan my genoem dat die Oberholsters wat hy ken saggeaarde mense is.

    Tannie Annatjie van Deventer – nasaat van Michiel – het vir my vertel van haar gelowige voorouers – hoe hulle bv. ook besonder goed met hulle werksmense omgegaan het. Daar was bv. haar Oupa Jorsie (hy het soos King George gelyk en die bynaam George het toe verander na Jorsie!) wat diep gelowig was en o.a. verskeie geestelike geskrifte nagelaat het.

    Op my vraag wat die familie oorvertel het oor Michiel Oberholster het sy gesê: “Hulle het gesê hy was ‘n baie goeie mens gewees…”

    Oor haar oupagrootjie – Blinde Oupa en kleinseun van Michiel het sy gesê: “My pa het ook gesê hy was ‘n baie, baie goeie mens.”

    Oor haar Pa het sy gesê: “Ja nee en hulle was nie opstandige mense gewees nie…As iemand kom koop het by hom – hy sou nie – bv daai man wou 5 pond ‘n os hê – ten minste betaal – en my Pa wou miskien 6 pond gehad het – en daai man sal hom vat vir 5 pond – pa sou nie stry oor ‘n prys nie.”

    Blinde Oupa, kleinseun van Michiel Oberholster het volgens Tannie Annatjie van Deventer se Tante Mev. Anna Erasmus ook “vertel van nomadiese boesmans verskuil in bome teen nagtelike vangs deur leeus. Later, met gebare taal, is hulle aangelok. Een het die naam van Martha gekry, maar sy het haar kinders klein opgehang aan die boogsnaar as hulle te lastig is. Een het tog los gekom deur die Kommandant (nota: dit is Michiel Adriaan Oberholster) en sy naam was Koelman. Hy was die metgesel vir die Oupa agter die trop skape.”

    Die volgende word ook vertel deur Mev. Anna Erasmus (die persoon wat die “staaltjie” aan Mev. Erasmus vertel het was ook blinde Oupa of dan kleinseun van MA Oberholster. Hy was Mev. Erasmus se Oupa): “Ook die staaltjie van Kommandant Oberholzer wat op ‘n skiettog ‘n gewonde swartman met ‘n maagwond deur ‘n renoster toegedien, se lewe gered het. Hy het dit met skoon water gewas en sy nekdoek om die liggaam gebind. Baie lank daarna het die bantoe al wuiwende met die doek op die plaas aangekom!”

    Dit is natuurlik so dat nie net die lede van een van mens se geslagslyne ‘n invloed op jou lewe het nie. Dit wat Tannie Annatjie en Louis Roux oor die Oberholsters vertel het, het my egter tog laat dink aan wat ek gehoor het ‘n Amerikaner op ‘n keer by ‘n byeenkoms te UWK gesê het: nl. dat dit wat jy in jou lewe doen nog tot op die vyfde geslag na jou ‘n wesentlike invloed het. Ek aanvaar dit is deur navorsing bewys waarin waarskynlik bevind is dat dit in sommige gevalle op meer en in ander gevalle op minder as vyf geslagte betrekking het.

    Dit beteken natuurlik ook nie dat ons gevangenes is van die gevolge van ons voorouers se dade en waardes nie. Ons het elkeen ‘n vrye keuse en daar is natuurlik baie voorbeelde van mense wat hulle ontworstel het aan die negatiewe invloed wat hulle voorgeslagte se dade en waardes op hulle as nageslag gehad het.

    ‘n Opmerking oor die karakter van Michiel Oberholster waaraan ons baie waarde kan heg kom van Andries Stockenstrom, op ‘n stadium o.a. Landdros van Graaff-Reinet. Dit is bekend dat hy en die Oosgrensboere nie altyd langs dieselfde vuur gesit het nie. In die volgende aanhaling uit sy outobiografie rig hy hom aan o.a. die grensboere se groot kritici in Engeland:
    “It is most unjust to charge the colonists en masse as cut-throats, and as being adverse to the amelioration of, and good understanding with the aboriginal tribes. It is the fashion to associate everything that is barbarous, brutal and cruel with the ‘African-Boer’. If my object had been to gain popularity with any one set of men, then I would have adopted a more partial course than I did. But as I do not mean to cajole either friend or foe I neither hesitate to say that if a wise and efficient system had been adopted… the majority of citizens, English and Dutch, would have given it their most cordial co-operation. I never found them in the aggregate hostile to any plan which would ensure protection for themselves as well as their black neighbours … A thousand times have such men as Van Wyk, van der Walt, Pretorius, Oberholzer, Joubert and others (whom before some of you, it is hardly safe to call human) spoken to me with the utmost warmth and sympathy of the dangers and injustice of taking the property of the boarder tribes, the doubtful alternative to which our wavering policy occasionally drives us. I have often found more human feelings and good sense in these men and the like, than I am disposed to give some of their defamers credit” Vir meer inligting hieroor sien by STORIES op my webtuiste by http://www.gendata.co.za

    Handtekening van Michiel Oberholster

c
compose new post
j
next post/next comment
k
previous post/previous comment
r
reply
e
edit
o
show/hide comments
t
go to top
l
go to login
h
show/hide help
esc
cancel